05/07/2020
N I C O & M E L A N D R I SMIT -B U I L O F
Gunsteling Seisoen - Kaleidoskoop
Opwindende huppelstap saam jou
Huppel trippel op die wandelpad soos die lewe ontvou
‘n Blommekrans om jou donkerkop gevou
Jou glimlag bederf as ek jou hand styf in myne hou
In die somer jou gevind, jy is my sonskyn blommekind
Draai en swaai jy skaterlag so mooi
Terwyl ons dans in die blarereën wat herfsbome saggies oor ons strooi
In jou rein en warm oë, jou donkerbruin oë
Het ek my hart verloor – in die bruin herfs van jou oë
Die blare kleur nou rooi jy is my donker herfsnooi
Soos die tyd, gaan seisoene kom en gaan
Deur dit als sal ons hand aan hand bly staan
Somer is huppelloos en die herfs se blaredans is siel-alleen
Sonder jou my lenteblom
Wintermaande en die bibberkoud is hier
Styf opgekrul in my arms, snoesig voor die kaggelvuur
Reën wat kletter teen die ruit, vroeg soggend tot saans
Kaggevuur se gloed wat speels in jou oë dans
Voor ek nalaat om te sê – jy is my winters-vreugdevuur
Lente blom en so ook my liefde vir jou
Kop teen kop, plat op ons rûe – jou hand wat myne klou
Staar ons saam na wolke wat in prentjies ontvou
As ek ooit getwyfel het, dan weet ek nou
Al is lente ook hoe groen – jy is my gunsteling seisoen.
Soos die tyd gaan seisoene kom en gaan
Deur dit als sal ons hand aan hand bly staan
Winter is koud en die lentekleure is vaal en leeg
Lentekleure is vaal en leeg
Sonder jou my lenteblom