14/12/2025
Meesterstuk 🤍
Deur die lens van ’n mens sal hierdie handgemaakte item baie aanpassings nodig hê voor dit ooit goedkeuring kry. Hoeveel mense sal verbyloop en dit nie eens raaksien nie. Dis vol duike, skewe plekkies, uit proporsie… en, en, en.
Maar dis ’n sesjarige dogtertjie wat dit gemaak het — en ek is haar mamma. So hier staan ek stil. Ek kyk. Ek luister na elke detail. Sy verduidelik van die roomys op die kat se oortjie en dat die kat eintlik die vorm van ’n skoen het. Ek luister. Sy is baie spesifiek en het presies gemaak wat sy wou. Sy praat met trots oor haar kuns.
En toe tref dit my…
So het God elkeen van ons gemaak — spesiaal, met detail, anders met ’n rede, spesifiek. Party mense sien dit dalk nie raak nie. Hulle loop verby en maak opmerkings. Maar God kyk anders. Hy kyk na jou, met al jou duike en tekortkominge, en Hy sien JOU. Die meesterstuk wat Hy gemaak het. SY meesterstuk.
Ons is so geneig om na mekaar te kyk en te fokus op alles wat kan verander. Maar hou jou oë eerder op die Een wat jou gemaak het. Kyk na jouself soos Hy jou sien. Wees genadig met jouself — en dan ook met ander.
Moenie dat die wêreld jou in ’n boksie druk met hulle idee van “perfek” nie. ALMAL kort genade.
Laat die Vader vir jou sê wie jy is en wat Hy van jou d**k. God se gedagtes en planne oor jou is goed en vol hoop. En op die ou einde is dit al wat regtig saak maak — wat God d**k en sê.
JY IS Sy meesterstuk. 🤍