20/03/2020
Nog heeltyd wou ek 'n post maak oor wat die afgelope ruk in my lewe gebeur het, maar die tyd het nie reg gevoel nie. Toe hierdie virus uitbreek wou ek begin huil het van vreugde (ek weet dit klink vreemd, maar bear with me), want ek het besef dat God wou hê ek moes getuig van Sy goedheid en Sy boodskap moes oordra oor Hy die wêreld gaan laat ervaar wat ek vir weke al ervaar het.
So 4 weke terug moes ek afskeid neem van die persoon wat nog die naaste aan my hart was. Die gevoel van eensaamheid is skelm en 'n leuen, want God het SÓ DUIDELIK Sy helpers in my lewe sigbaar gemaak. Jaar na jaar het ek wat vriendskappe aanbetref gewissel tussen kwaliteit en kwantiteit, maar hierdie jaar het God altwee oorvloedig vir my gegee. Dis iets wat ek nooit ged**k het ek sal kry nie, want my siening was hoe kleiner jou groepie is, hoe meer eg is dit. Maar God het my lewe kom vul met mense wat só streef na Sy beeld en leiding. Julle dra my steeds💛
Twee dae na ek moes afskeid neem, was ek in 'n motorongeluk op pad sel toe. Ons moes baie hard bid dat my kar nie afgeskryf word nie, want die skade was redelik erg. Ek het dadelik begin lag (en huil) toe ek my Bybel op my kar se vloer gesien het. Ek is nie iemand wat glo dat jy die Bybel sommer net kan oopmaak en 'n vers as 'n boodskap kan vat nie, maar hierdie boodskap het God nogals duidelik gestel en perfek geraam (2de en 3de foto). Hoe DIREK en DUIDELIK is hierdie boodskap nie?
'n Week na dit het my kamera ingegee tydens 'n graadvang sessie. Wat vir my só snaaks was, is dat ek die hele week lank 3 tot 4 sessies 'n dag gehad het, maar dié dag slegs die een. Baaaaaiiie lang storie kort - DIERBARE Bernice Burger het haar kamera vir my vir 'n MAAND lank geleen en die ONGELOOFLIKE Rudy van Tonder het gereël om my kamera te LAAT HAAL sodat dit vir goedkoper reggemaak kan word.
Twee weke na dit het iemand my probeer aanval 21:00 die aand voor my koshuis na al die studente al huistoe was en alhoewel ek nie op dit wil ingaan nie, is ek veilig. Ek is nie beseer nie, niks is gesteel nie en God het my hart weer met kalmte kom vul.
Die dae daarna was absolute chaos, maar hierdie was die oomblikke waardeur ek nie ged**k het ek gaan kom nie, alhoewel Hy my hart met sóveel rustigheid deur alles bly vul het. Keer op keer op keer het God my nie net gewys dat Hy in beheer is en die PROMISE KEEPER is nie, maar dat ons as mede-Christene REGTIG nie sonder mekaar kan gaan nie. Julle - ek sou dit WERKLIK nie kon maak sonder ENIGE van my hartsmense en selfs die vreemdelinge langs die pad nie. Van my vriendinne wat kos aangedra het en hulle hande oor my geplaas het en saam my gebid het, na my ou dierbare Altus wat my kom optel en rondry het na my ongeluk, my liewe Sune wat haar kar vir my aangebied het, mede-fotograwe wat só selfloos was en net uit hulle harte gehelp het waar hulle kon - julle laat my daagliks in dankbaarheid staan.
My mentaliteit is nou al so geprogrammeer dat as iets sleg gebeur, ek met sóveel afwagting sit in kalmte en geduld om te kyk wat God gaan doen. Ek sit in absolute awe. En kyk met bewondering na 'n God wat WERKLIK IN BEHEER VAN ÁLLES is. Ek sien uit (ja noem my mal) en is dankbaar om deel te kan wees van hierdie tyd waar God die wêreld hierdie gevoel gaan laat ervaar☀️