23/08/2026
Die begin en ontstaan van Vyeboom Fotografie 🌿📷
In 2018, nadat ons die mooie Europa besoek het, het ek eendag by die huis by my man ingestap en aangekondig: “Ek het myself vir ’n fotografiekursus ingeskryf.”
Ons was nog nie lank getroud nie, maar hy het my al goed genoeg geken om te weet: wanneer ek my kop op iets gesit het, is daar maar min dinge wat my van plan sou laat verander.
En so is die eerste saadjie van Vyeboom Fotografie geplant.
Maar die naam het nie sommer net uit die lug geval nie. Daar is lank daaroor gebid. Ek wou ’n naam hê wat meer beteken as net ’n mooi woord — iets met wortels. Iets wat my sou herinner waar alles vandaan kom.
Vyeboom, uit Habakuk 3:17–18, was uiteindelik die wenner. Want al sou die Vyeboom nie bot nie, sal God voorsien. En dit, het Hy nog altyd in oorvloed gedoen.
Vyeboom het oor die jare my nie-menslike baba geword. Dit het begin as ’n klein idee, maar met elke troue, elke gesin, elke glimlag, elke traan en elke herinnering wat voor my lens vasgevang is, het daar nog ’n takkie gegroei.
En wat ’n voorreg is dit nie om vir mense iets te gee wat tyd nie sommer kan wegvat nie.
’n Foto is tog maar eintlik ’n klein stukkie tyd wat jy in jou hand kan hou.
Klein oomblikke wat groot genoeg is om vir altyd te hou.
My fotografie is ook maar net soos ek daarvan hou: high contrast, eg en met lewe. Nie te veel geposeer nie. Nie elke haar perfek in plek nie. Nie elke foto volgens die boek nie.
Ons lag.
Ons speel.
Ons beweeg.
Ons leef.
Ons floreer.
En ja, nie almal gaan van dieselfde foto hou nie. Ook nie van dieselfde "editing-styl" nie"
Dankie tog! 😂
Hoe vervelig sou die wêreld wees as almal dieselfde oë, dieselfde smaak en dieselfde idee van mooi gehad het?
En nou, agt jaar later, staan Vyeboom op ’n nuwe plek.
Die wortels is dieselfde.
Die hart is dieselfde.
Die liefde vir fotografie is dieselfde.
Maar die boom het gegroei.
En daarom is dit tyd vir ’n nuwe logo — nie omdat Vyeboom verander het in iets anders nie, maar omdat dit gegroei het tot iets meer as wat ek in 2018 kon sien.
Die klein saadjie het wortel geskiet.
Die takke het uitgebrei.
Die blare het gekom.
En deur elke seisoen het God voorsien.
Net soos die vyeboom in Habakuk.
“Al sou die vyeboom nie bot nie…”
Ek weet steeds Wie die boom laat groei.
En ná agt jaar kan ek met dankbaarheid terug kyk en sê:
My Vyeboom het nie net aanhou groei nie.
Hy het aanhou bot.
Aanhou blom.
En op sy eie tyd, vrugte gedra. 🌿
Op na die volgende seisoen. 🤍📷