14/10/2025
4. STILTE NA DIE SKARE
♫ I’ll be there - Parlotones ♫
Ek staan in Dam Square, Amsterdam.
Die stad raas.. mense skarrel, fietsklokkies lui, duiwe se vlerke klap…
En tog, in hierdie oomblik, is daar stilte.
Voor my stap Kahn Morbee.
Ontspanne. Teenwoordig. ’n Kunstenaar in sy eie wêreld.
Ek lig my kamera, nie net om ’n beeld vas te vang nie,
maar om daardie gevoel van vrede in beweging te bewaar.
Ek d**k aan waar dit alles begin het.
Klerksdorp.
My ma, kamera in hand, wys my hoe om die storie in elke skadu en glimlag te sien.
Sy het my geleer dat fotografie meer is as tegniek,
dis empatie, dis aanvoeling, dis kuns.
Ek was sestien toe ek en Andrea by ’n Parlotones-konsert gestaan het.
Vol drome, vas oortuig dat die wêreld groot genoeg is vir ons almal om iets te skep.
Daardie aand het ek gevoel wat kuns kan doen,
hoe dit mense verbind sonder woorde.
Jare later, staan ek hier, kamera in hand,
’n fotograaf in Nederland,
omring deur stories, lig en mense van oral.
Ek het nie geweet my pad sou my so ver bring nie,
maar miskien is dit wat gebeur as jy aanhou sien, aanhou glo, aanhou skep.
Daardie dag saam met Kahn was nie net ’n fotosessie nie.
Dit was twee kunstenaars,
twee mense wat hul drome leef,
wat verstaan dat kuns die taal is wat ons almal verbind,
of jy nou sing, speel of kyk deur ’n lens.
Van Klerksdorp tot Dam Square.
Van my ma se kamera tot my eie.
Van ’n jong meisie met groot drome,
tot ’n kunstenaar tussen kunstenaars.