24/08/2026
Papwiel.
Of dalk die pad, die skud en die papwiel?
Hoe ook al sy… die ry Sossusvlei toe was growwer as gewoontlik. Ek kon baie vinnig sien dat daar meer verkeer op die pad is as gewoonlik. En spoed... ek d**k iemand het vir hierdie mense gesê – ry net so vinnig soos jy kan, dan is dit vinniger verby... en skommel-skommel kom ek toe by die lodge aan. Dankbaar.
Vrydagoggend is ons dou voor dag uit die vere... dis ‘n stunning oggend. Die lug is blouer as blou en aan die duine kleef ‘n ongewone groen. Die paartjie wat ek afneem is uit hul nate om uiteindelik Dooievlei te kan sien. Uitasem stap ons oor die laaste duintjie... en toe verloor ek my laaste asem... want hier regs van my is dit GROEN. Nie roes-rooi duin nie. Groen! Hier in hierdie plek met die baie dooie bome – staan gras groen gras.
Vir die res van die oggend moet ek fokus om af te neem waarvoor ek gekom het, want my gedagtes bly drentel na die groen toe en die wonder van die natuur. Sou dit moontlik wees, dat die enkele lewendige Kameelhoute wat nog hier staan, saad kan skiet en jong bome weer in hierdie vlei kan lewe? Dis verseker nie ‘n gedagte wat ek 5 jaar terug sou ged**k het nie, maar met die water wat ek net nou die dag hier in die vlei gesien het, die gras teen die duine... ek kannie help as om te wonder nie. Kan daar weer lewe kom?
Dis ‘n baie mooi foto sessie en ons maak klaar net voordat die son al sy krag gebruik om die kaf van die koring te skei. Ons maak vol by Oasis en gaan besoek die nuwe winkeltjie... wat ‘n verrassing!
En toe kom die ontnugtering. Ek het geweet die pad is erger WB toe van Sesriem af, as van WB na Sesriem. Maar die hoeveelheid slegter... haha. Ek kan net lag. Dis hop na hop. Stadig oor die klippertjies kry nuwe betekenis. En nee, jy kannie juis vinniger as 80km ‘n uur nie, want dan begin jy beheer verloor. Bars ‘n voorband, dan eindig jy op jou dak... skommel-skommel tot by Solitaire.
Klim uit. Wat ruik soos gebrande bande? (As jy in Walvisbaai bly, dan is dit ‘n uiters onaangename en bekende reuk). Jip, my agterwiel is pap. Wel, moerlandspan-toe is seker ‘n beter beskrywing. Die realiteit van verder ry, sonder ‘n spaar, is ‘n lae hou op ‘n nugter maag. Maar ek het baie om voor dankbaar te wees. Dis Solitaire. En hier is baie helpende hande wat gou die band vir my afhaal en omruil. Dankie aan die Solitaire span!
En oor twee weke moet ek weer ry... ek begin nou al bid vir skrapers...die hele pad. Maar veral vir daai Sesriem-Solitaire stukkie.
Op hierdie Maandag, by my tafel, op vaste grond, kan ek steeds die geskommel onder my voel... hop-hop, skud-skud besef ek, daar is altyd iets om voor dankbaar te wees. Al is die oomblik hoe fleeting, dis daar. Ons moet dit net soek!